Met die steeds groeiende gewildheid onder jonger en moderne kopers van enigiets sportnuts, is ek van opinie dat die profiel van motormodelle in vyf jaar se tyd heel anders gaan lyk as vandag.
Ek persoonlik dink die tradisionele middelslag sedan gesinsmotor se dae is getel onder die Afrika son. Dalk sal die top groot luukse waens nog aan die lewe gehou word deur ryk politici en kooperatiewe swartpakdraers, maar dit sal myns insiens maar hoogstens ‘n nismark bly. Dit is dus nie verrassend nie dat omtrent al die motorvervaardigers neig na kleiner kompakte nutsvoertuie wat in die stad en op die grondpad tuis kan wees. Audi se nuwe Q2 wat onlangs plaaslik bekendgestel is, was dus geen verrassing nie, maar wat wel getref het was die oulike ontwerp, praktiese doeltreffendheid, uitmuntende paddinamika en opwindende stilering. Ingolstadt beskryf die nuwe kompakte Q2 ‘n “baanbreker”-model. ‘n Stadsmotor wat ideaal is vir elke dag pendel, maar met genoeg wiilewragtag-gene om ook in die platteland op grondpaaie te kan baljaar. Nou ja, bemarkingsmense se innovering met beskrywings is legendaries en meeste van hul sal iets so onsmaaklik as kasterolie bemark as ‘n “heerlike aperatief met ‘n pikante smaak”! Met die Q2 is Audi se bemarkingsmense egter in die kol in hul beskrywing van die opwindende buksie as “sportiewe veeldoeler met moderne stilering en hoë vlakke van funksionele tegnologie”. Terwyl die “Q” in die modelbeskrywing gewoonlik ‘n aanduiding is van “Quattro”-aandrywing, is daar nie vir die onmiddelike toekoms planne deur Audi SA om die Q2 met Quattro-aandrywing na Suid Afrika te bring nie, grootliks weens prysoorwegings. Alhoewel die Q2 plaaslik met modelle soos die Mazda CX-3, BMW X1, Mercedes GLA, Jeep Renegade, Fiat 500X en selfs die MINI Countryman meeding, is die Q2 eintlik in ‘n nis van sy eie. Gebou op die VW-groep se MQB-platform kom die Q2 eiesoortig gestilleer met ‘n geometriese ontwerp wat skerp hoeke, sterk lyne en prominente wielboê insluit. Die algehele voorkoms straal ‘n moderne, sportiewe en aggressiewe beeld uit. Die dak duik so effe na agter om vaagweg trekke van ‘n koepee op te roep. Die voorkant weer word gedomineer deur ‘n prominente Audi -hoekige sierrooster en groot luginlate. Agter is die kleurvariasies van die breë C-pilaar ‘n stileringstreffer met die netjiese dakvlerkie en agterste lugsnoer wat die oog vang. Die klein Q2 is 4,19 meter lank, 1,79 meter breed en 1,51 meter hoog. Die afstand tussen die voor- en agteras meet 2,6 meter. In Suid Afrika is 12 bakkleuropsies beskikbaar vir die Q2 met twee nuwe kleure, naamlik “Coral Orange” en “Manhatten Grey” wat eksklusief aan die Q2 model toegewys is. Binnekant is die kajuit luuks afgewerk en na gelang van die opsionele toerusting en afwerkingsvlak wat jy kies, omvattend toegerus. Die hoekige ontwerp word in die kajuit voortgesit wat sorg vir ‘n moderne voorkoms. Uitleg is tipies Audi, funksioneel en ergonomies uitstekend, met afwerking en materiale van hoë gehalte. Ek is van mening dat die Q2 se kajuit die toon aangee in sy segment. Toerusting is uitstekend, veral in die modelle met die S-Line pakket afgewerk. Audi se opsionele “Virtual Cock Pit” is myns insiens seker die beste instrumentasie tans beskikbaar en is funksioneel briljant met omtrent al die elektroniese katoeters, selfs sateliet navigasie, daarmee geintegreer! Daar is ‘n hoë-definiese volkleur raakskerm middel bo in die voorpaneel waarop ook al die funksies, ingesluit Audi se MMI radio/klankstel, SatNav asook rit-en motorinligting vertoon word. ‘n Draaiknop op die middelkonsole agter die rathefboom tussen die voorsitplekke is maklik binne bereik en werk intuitief om ook al die inligting en verstellings op die stelsel te ontgin as jy nie die raakskerm wil gebruik nie. Met Audi Connect kan jy byvoorbeeld via Google Earth en Google Street View enige adres vind en die motor kan ook in ‘n WiFi “Hotspot” verander word om tot 8 verskillende fone/tablette/skootrekenaars gelyktydig te hanteer! Verder is Audi CarPlay en Android Auto beskikbaar waarmee enige slimfoon soomloos met die stelsel geintegreer kan word om ondermeer ook musiek deur die motor se klankstelsel te speel. Die agtersitplekke se beenspasie têre maar met 6-voet plussers soos ek in die voorsitplek, maar sal kleiner volwassenes met gemak kan hanteer. Die baggasieruimte is ‘n kleinerige 405 liter, maar vergroot na 1050 liter met die agterste sitplekke platgevou. Die Q2 beskik oor ‘n aantal gesofistikeerde bestuurhulpstelsels waarvan sommige segment eerstes. Audi “Pre-Sense” gebruik ‘n radar voor in die neus om die bestuurder voortydig te waarsku en sal selfs hard rem en die motor tot stilstand bring sou ‘n moontlike botsing met ander voertuie of voetgangers bespeur word. Daar is onder meer ‘n Stop/Ry stelsel wat die enjin outomaties af-en aanskakel wanneer daar in verkeer of by verkeersligte stilgehou word, asook parkeerhulp met sensors waar die stelsel ook die Q2 self kan parkeer. Audi SA het die Q2 plaaslik bekendgestel met die keuse van twee petrol- of een dieselenjin. Die 1.0 liter TFSI petrolenjin bied 85kW en 200Nm se piekverrigting. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 5,1/100km en CO₂ uitlate as 117g/km. Die 1.0 TFSI sal eers vanaf Mei plaaslik beskikbaar wees. Aandrywing is na die voorwiele deur ‘n keuse van 6-spoed hantrat of Audi se S-tronic outomaties. Tydens bekenstelling het ons met die 1,4TFSI petrolenjin Sport modelle gery. Piekverrigting is 110kW en 250Nm met COD-tegnologie (Cylinder on demand) wat die 2de en 3de silinder uitskakel wanneer die enjin minder as 100Nm benodig en die enjinomwentelinge tussen 2000-3000rpm is. Aandrywing is ook deur die voorwiele via ‘n 6-gang handratkas of die 6-gang S-tronic outokas. Brandstofverbruik is 5,2l/100km met die S-tronic ratkas en 5,4l/100km vir die handratkas. Slegs een dieselenjin model, naamlik die 2.0TDI met 105kW en 350Nm en toegerus met ‘n 6-gang S-tronic outokas sal vanaf Mei 2017 plaaslik beskikbaar wees. Al die modelle kan met verskillende Audi afwerkingspakkette en ‘n lang lys opsionele toerusting bestel word. Tydens die bekendstelling het ons met ‘n pragtige blou bakkleur (Model op foto) met silwer afwerking gery wat in die sportiewe S-Line pakket afgewerk en met die opsionele 17” sierwiele toegerus was. Binne was die sportsitplekke afgewerk in liggrys Nappa leer en daar was opsionele gepoleerde aluminium afwerking op die voorpaneel en deure. Ons model was ook toegerus met die opsionele LED ligpakket . Dit was egter die Audi Q2 se paddrag en uitstekende paddinamika wat my hart gesteel het. Tydens ons bekendstellingsrit is ons vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe oor Du Toitskloof via Rawsonville en Goudini na Wellington. Die heerlikheid vir my was uiteraard die legendariese Bainskloof Pas waar die stamperige padoppervlak enige wanne-be sportnuts tot ‘n middelmatige stoftrapper kan afgradeer. Die knobbelbesaaide pad met sy kort draaie, hardnaaldbogge en vinnige links-regs-links swiepe, bly vir my een van die beste “toetsbane” om ‘n voertuig se onderstel en veerstelsel te evalueer. En dis juis hier, met die Q2 1.4 TFSI se S-tronic ratkas in “Sport+”- modus gestel en die stuur op Sport, wat ek behoorlik lat ingelê boontoe, stadig deur die ou tolhek, net om weer oopketel teen die berg te af! En dit was hier dat ek oopbek respek en bewondering vir die Q2 gekry het! My navigator het beweer hy het 10 jaar ouer geword, twee byna hartaanvalle moes deurstaan en ‘n skoon onderbroek by die eindpunt gesoek. O ja -sy gebedslewe is ook blykbaar weer op datum gebring vir die res van die jaar!! Die waarheid daarvan sal ek nie kan bevestig nie, maar waaroor ek wel onder eed kan getuig, is dat dit een van die beste voertuie is - in terme van paddinamika - wat ek in ‘n lang tyd onderhande gehad het. Maak nie saak hoe hard ek die skerp draaie aangeval het nie, die Q2 het net foutloos gereageer. Platvoet in tydrenstyl deur die haarnaaldbogge kon ek net een maal daarin slaag om ‘n vierwiel gly te bewerkstellig. Balans, remme, stuurpresiesheid, greep en ratverhoudings is bloot uitstaande. Ek verstout my om te sê dat die Q2 (o ja, en die S-tronic ratkas is ‘n absolute juweel en seker die beste in sy klas te wereld!) het beter paddinamika en stuurgevoel getoon as meeste sogenaamde “blitsbukse” wat ek die afgelope 2 jaar bestuur het! Die nuwe Audi Q2 S-Line 1.4T S-Tronic is my gunsteling voertuig sovêr in 2017. Nadeel? O ja, daar is een – jy moet diep sakke hê, want die prys is myns insiens te styf. Die wat dit kan bekostig gaan ‘n briljante en kordate kompakte sportsnuts geniet. Pryse: Ingesluit by die prys is 5 jaar/100 000km Audi Freeway Plan alle belastings · Audi Q2 1.0T FSI Handrat: R 434,500 · Audi Q2 1.0T FSI S tronic: R 453,000 · Audi Q2 1.0T FSI Sport handrat: R 464,500 · Audi Q2 1.0T FSI Sport S tronic: R 483,000 · Audi Q2 1.4T FSI Sport Handrat: R 511,000 · Audi Q2 1.4T FSI Sport S tronic: R 529,500 · Audi Q2 2.0 TDI Sport S tronic: R 565,000
0 Comments
Leave a Reply. |
MOTORS
|